Hoe breër, hoe beter
Internet raak nou 'n móét
Of jy nou alleen van die huis af werk of 'n onderneming het met verskeie werknemers, niemand kan deesdae meer bekostig om sonder internet en e-pos te probeer sake doen nie – veral nie sonder breëband nie. Dis verbasend hoeveel mense nog heeltemal internet-ongeletterd is.
En al is jy nie die een wat rondloop nie, is dit dalk jou kliënt of verskaffer wie se hele kantoor slegs 'n skootrekenaar is en al hoe hy inligting by jou kan kry is deur middel van die internet.
Die groot vraag is egter: Wat moet ek kry om internettoegang te hê, hoe vinnig moet dit wees, hoeveel sal dit kos en waar en waarvoor kan ek dit gebruik?
Me. Shantél Strydom van @lantic, 'n telekommunikasie-diensverskaffer, sê daar
is verskillende opsies wat mens moet bekyk.
Jou telefoon, telkomlyn en modem kan nog steeds gebruik word om aanlyn te gaan, maar Shantél beveel dit net aan vir mense soos pensioenarisse wat slegs af en toe 'n e-pos wil stuur of 'n banktransaksie wil aangaan. Dié diens se aansluitingsfooi by 'n internetdiensverskaffer soos @lantic is die goedkoopste, maar as jy lank aanlyn bly kan jou telefoonrekening die hoogte in skiet.
Maar breëband is wat almal wil hê en daar is byna net soveel opsies en pakette om van te kies as wat daar diensverskaffers is.
Die beste ding om te doen is om te besluit waarvoor en hoe jy die internet gaan gebruik en dan 'n paar opsies met mekaar vergelyk. Jy sal moet besluit of jy internettoegang vanaf een plek wil hê, en of jy mobiel wil wees deur byvoorbeeld met 'n skootrekenaar van enige plek in die land of stad wil toegang hê.
As jy net van een plek af gaan werk, is 'n ADSL-pakket 'n stabiele oorweging en dis baie vinnig. Die minimum vereistes is dat daar ADSL beskikbaar moet wees in jou area asook dat jy 'n analooglyn van Telkom moet hê wat ADSL potensiaal het om die diens te kan hanteer. Dit kan enige iets van 'n paar uur tot 'n paar weke duur as jy nog nie dié lyne het nie. Volgens Shantél behoort jou diensverskaffer namens jou te kan aansoek doen by Telkom.
Die enigste probleem met 'n vaste ADSL-lyn is dat wanneer Telkom se kabels gesteel word of 'n fout ondergaan, jou diensverskaffer self niks aan die problem kan doen nie en is julle albei in Telkom se hande.
Neotel verskaf egter 'n baie vinnige breëband-draadlose diens soortgelyk aan ADSL. Daar is ook 'n hele paar ander verskaffers van breëbandpakette wat van draadlose tegnologie soos radiofrekwensie gebruik maak, waaronder Wi-Max, selfoontegnologie en iBurst.
Met draadlose tegnologie moet jy net seker maak dat daar wel opvangs in jou area is sowel as die areas waarin jy gaan rondbeweeg as jy mobiel gaan wees.
Selfoontegnologie soos HSDPA, 3G, EDGE en GPRS is grootliks deur die hele land beskikbaar maar kan beïnvloed word deur weersomstandighede of ander obstruksies soos berge of geboue. Jou modem sal outomaties aanpas tot die beste protokoldiens wat beskikbaar is by jou ligging.
Draadlose tegnologie soos iBurst is op die oomblik net beskikbaar in beperkte liggings soos die groter stede, maar is vinnig besig om uit te brei. Dit is betroubare tegnologie maar die sein kan ook beïnvloed word deur die weer en ander obstruksies.
Die volgende dinge waaroor jy moet besluit is die hoeveelheid bandwydte wat jy gaan nodig hê. Jy sal met jou diensverskaffer moet gesels oor wat jy alles oor die internet gaan op- en aflaai, hoeveel e-pos jy stuur of ontvang, hoe groot die lêers is wat jy stuur, en of jy VoIP (om goedkoop telefoonop-roepe oor die internet te kan maak) gaan nodig hê. Om jou 'n idee te gee: 1Meg is gelykstaande aan ± 1 minuut se musiek of ± 1 foto geneem met 'n 2 “Megapixel”-selfoonkamera.
Die spoed waarteen jy sal kan op- of aflaai in optimale omstandighede sal afhang van die soort modem of selfoon wat jy gebruik asook die tipe protokol (soos 3G of EDGE) wat in jou area beskikbaar is.
Nog iets wat jy sal moet oorweeg is of jy maandeliks vooruit wil betaal of 'n kontrak sal uitneem. Sommige kontrakte is duurder of langer as ander, maar sluit die modem en/of ander toerusting soos 'n VoIP- telefoon in by die pakket.
Let ook op of jou ongebruikte data oorgedra word na die volgende maand toe.
Vir klein- en mediumsakeondernemings is daar ook draadlose pakette beskikbaar waar 'n paar rekenaars aan een internet rekening gekoppel kan word.
Moenie huiwer om al hierdie aspekte met jou diensverskaffer te bespreek voor jy halsoorkop besluite maak nie.
Sou jy meer inligting benodig, kontak gerus vir Shantél Strydom of enige een van @lantic se verkoopsdames by 086 16 77 333 of 012 990 4600, of by sales2@lantic.net vir meer inligting oor hul diens en pakette.
© Bizwise June 2009