Lekker om baas te wees?
So jy is die baas. Jou eie besigheid, werknemers en al!
Al die papierwerk is gedoen, registrasie van die besigheid, BTW, belasting en alles wat nodig is om vinnig ryk te word. Jou deure staan wawyd oop en jy wag vir die rande om in te rol. En so saam met die rande rol die probleme in. Want 'n besigheid het gewoonlik werknemers, en werknemers kan moeilikheid beteken, soms groot moeilikheid. 'n Groot mediagroep byvoorbeeld, is onlangs vir etlike miljoene rande gedagvaar deur 'n voormalige werknemer wat blootgestel was aan seksuele teistering.
Die volgende syfers is ter illustrasie van min of meer hoe groot hierdie moeilikheid kan wees: Vir April 2009 alleen is 11,560 arbeidsgeskille landwyd na die CCMA verwys waarvan die syfer vir Johannesburg 3,129 en Pretoria 1,313 is.
Onbillike afdankings maak 83% van hierdie geskille uit en byna 'n derde hiervan is in die kleinhandel en besigheidsektor.
En skielik dink jy dis dalk nie meer so lekker om die baas te wees nie.
So hoe systap 'n onderneming hierdie mynveld en verhoed om deel van die CCMA-statistiek te word? Die kort antwoord is om nie 'n besigheid te hę nie, en nie werknemers in diens te neem nie. Dit is egter sleg vir die ekonomie en ons almal weet dit is nie die oplossing nie.
Wat ons ook weet is dat ons geen versekering het dat ons nooit voor die CCMA gesleep gaan word nie. Dus moet jy maar die bul by die horings pak en seker maak jy is nie 'n kleiduif nie. ('n Kleiduif is daardie weerlose ronde skyf wat uitsluitlik gemaak is vir teikenskiet met 'n haelgeweer, en dan wag dat dit gebeur.) Anders gestel, maak jouself weerbaar deur kennis. Volg die wette van die land en verhoed of beperk jou skade.
Anders as wat algemeen geglo word, wen werkgewers wel sake by die CCMA.
Die belangrikste stap om jouself weerbaar te kry is om te besef en te aanvaar dat werknemers regte het. Ek het al werkgewers driftig hoor sę: “Hierdie is my @#$ besigheid, en hier is ek baas. Hier maak ek soos ek wil.” Dit is gewoonlik daardie selfde werkgewer wat later in die arbeidshof beveel word om 24 maande se vergoeding aan 'n werknemer te betaal vir 'n outomatiese onbillike ontslag. Die realiteit is, dit is ook jou motor, maar jy kan nie mense daarmee doodry of verkeersreëls verontagsaam nie. So kan jy ook nie arbeidwette verontagsaam nie.
Hannes du Buisson is 'n arbeidskonsultant en direkteur van BEMAWU. Vir spesifieke vrae, stuur e-pos aan arbeid@bizwise-sa.co.za
©Hannes du Buisson June 2009