Raak wild(t) met jou 4x4
As jy 'n 4x4-entoesias is en nog nie die De Wildt 4x4 wildspark ontdek het nie, mis jy 'n uitsonderlike ervaring.
Teen die noordelike hange van die Magaliesberg, 'n skamele 40km vanaf Pretoria op die R513 na Brits, lê een van die mooiste 4x4 roetes in die land.
Dié 400ha ongerepte natuurroete met elf spesies wild bied nie net vir die entoesias nie, maar die hele gesin 'n heerlike wegkomkans uit die stad.
“Hier is heelwat 4x4 roetes in en om Gauteng, maar min bied wildsbesigtiging as deel van die ondervinding, en ek dink dit is grootliks die aantrekkingskrag van die De Wildt-roete. Hier is meer wild te sien in een uur as wat besoekers aan die Krugerwildtuin in 'n week sien,” sê eienaar, Louis van der Merwe, wat sewe jaar gelede die potensiaal van dié stukkie paradys raakgesien het.
Die roete bied alles wat 'n 4x4 roete moet, maar met die minste impak op die ongerepte natuur. Dit is op be-staande plaaspaadjies ontwikkel om nie die natuurlike bos te skend nie. Hier kan die 4x4 entoesias sy vernuf op al die terreine toets – watergate, 45 grade hellings, sandgate, klipterrein en twister.
'n Opleidingsbaan by De Wildt word dan ook deur voertuigvervaardigers soos Toyta, Jeep, Izuzu en Mahindra gebruik vir 4x4-opleiding. “'n Groot deel van ons sukses is te danke aan die feit dat dit 'n gesinsbestemming is. Dit is nie net 'n uitstappie vir die mans nie. Terwyl die bestuurder sy vernuf toets, kan die gesin wild besigtig, en 'n speelpark sorg vir kindervermaak.”
Die park bied ook staproetes en is 'n paradys vir voëlkykers. Drie lapas, versteek in die bos, word gebruik vir konferensies, troues en ander geleenthede. Sewe houthutte, wat van twee tot vier mense slaap, kruip tussen die bome weg vir dié wat van gerief hou, terwyl kampeergeriewe beskikbaar is vir diegene wat die bosondervinding verkies. Verskeie braai- en swemgeriewe is beskikbaar en besoekers kan 'n skemerkelk op die ruim uitkykdek geniet terwyl die wild by die nabygeleë watergat drink.
“Ek dink ons sukses is te danke aan die gemaklike atmosfeer en die klem op gesinsvermaak wat besoekers hier vind. Dit is 'n hanetree vanaf die stad na die bos en mense kuier lekker hier. Dit is tog die hele doel van 'n wegbreeknaweek,” sê Louis.
Skakel 083 268 8185 / 0825545334 of besoek die park se webwerf by www.dewildt4x4.co.za vir meer inligting.
© Bizwise June 2009