Veld lyk soos hy “van sy ma af kom”

 

Twee voormalige Pretorianers, Piet en Margo van Heerde, het sewe jaar gelede die stadslewe vaarwel toegeroep en bedryf deesdae hul eie toeronderneming, Virosatours, vanaf Hopefield.

 


 

Piet is in 2003 en 2004 aangewys as toergids van die jaar in die Noord-Kaap en hy is nie van plan om sommer weer stad toe te trek nie. “Ek sal nooit weer daar kan aard nie,” laat weet hy. “As ek en Margo Kaap toe gaan, skei ons drie keer en maak eers behoorlik op as ons tuis kom.”

 

Piet lei toere na die Richtersveld, Namakwaland, suid-Namibië, Botswana, die Kgalagadi, die weskus en die Cederberge.

 

'n Nuutste toevoeging waaroor hy baie opgewonde is, is toere na Mabenyani a Kalahari, oftewel “die Juweel van die Kalahari”, 'n privaat konsessiegebied.

 

Dié gebied beslaan sowat 4 miljoen hektaar wat twee keer groter is as die Kruger-wildtuin. Dit is voorheen gebruik vir elite jagsafari's maar is nou oopgestel vir toerisme. Die gebied grens aan die Mabuasehube-Kgalagadi-oorgrenspark.

 

Daar is geen heinings en geen mense in sig nie. Toeriste kan die gebied slegs per begeleide toere besoek en min mense per jaar word daar toegelaat.

 

“Die veld is soos hy van sy ma af kom – geen inmenging van mens hoegenaamd nie. Absoluut so wild soos hoe dit was toe Piet Retief en daai manne hierlangs getrek het,” sê Piet. “Ons vat 'n boorlingspoorsnyer saam wat die area beter as die beste GPS ken. Jy kan hom enige tyd vra hoe ver waarnatoe en hy is gewoonlik nie meer as 2 km uit nie. Hy sien 'n leeuspoor teen 60 km per uur en het 'n ongelooflike manier om 'n spoor te volg: Hy wόrd 'n leeu of die dier wat hy agtervolg. Dis 'n ongelooflike ervaring.

 

Piet sê daar is baie wildsoorte, en omdat daarso min mense kom is die wild régtig wild.

 

Dis ook 'n ideale bestemming vir fotografie-safari's om wild en ongelooflike Kalahari-landskappe met jou kamera vas te vang.


Geen GPS-opnames van die roetes word toegelaat nie. Die brandewyn-en-coke-brigades en cowboys is ook nie welkom nie.


Vir meer inligting oor dié en ander toere, besoek www.virosatours.co.za, of kontak Piet by 073 229 5014, per faks by 086 628 4760, of per e-pos by piet@virosatours.com.

 

© Bizwise June 2009