Oulap se blou, geel, groen, rooi..... maak mooi
Elke meisie wil in een of ander stadium van haar lewe soos 'n prinses lyk en voel.
Wel, daar's goeie nuus uit die Moot – Liezl Nortjé Haute Couture is 'n winkel waar selfs 'n aspoestertjie haarself kan laat omtower.
En al is dit nie jou koppie tee nie, is dit skaars denkbaar dat daar 'n vrou is wat haar nie sal verlustig in die ryk kombinasies van kleure en teksture van die prinsesagtige rokke nie.
Liezl se liefde vir lap, teksture en kleure kom al van kleintyd af toe sy haar ma se afval-naaldwerklappies gebruik het om vir haar Barbie-poppe klere te maak.
Later het sy mode-ontwerp en klerevervaardiging studeer, en het 'n vakleerlingskap by die bekende ontwerper, Henja Schaap, ondergaan. Daarna het sy vir vriende en kennisse begin klere maak van haar huis af en sowat twee jaar gelede 'n winkel in Pierneefstraat oopgemaak.
Maar dit het nie te goed gegaan nie want daar was nie juis voete nie, sê sy. “Vandat ek in die Pavillion is gaan dit baie goed.” Liezl het intussen getrek, sien nuwe kontakbesonderhede onder)
Aanvanklik was dit nagte deur se harde werk. Sy doen nog steeds self die ontwerpe en sny die patrone self, maar deesdae het Liezl drie naaldwerkers ook. Dit gee haar meer tyd om haar stukke lap te bekyk en dan met onverwagse kleur- en tekstuurkombinasies haar eie stempel op 'n rok afdruk.
“Maar mens kan ook nie net in jou winkel bly nie,” glo sy. Een van die wyses waarop sy aandag op haar onderneming vestig is deur liefdadigheidsprojekte te ondersteun deur byvoorbeeld modeparades te hou vir fondsinsameling-geleenthede. Sy onderhandel ook jaarliks met organisasies om 'n matriekafskeidrok vir 'n minderbevoorregte kind te borg.
Een ding waaroor Liezl egter nie onderhandel nie, is duplisering.
Sy sê as Paris Hilton in 'n tydskrif verskyn met 'n mooi rok aan, sal daar drie of vier meisies wees wat so 'n rok wil hê, maar nie een van hulle sal soos Paris gebou wees nie. “Dan interpreteer ek maar die styl op my manier om by die klant se figuur te pas,” sê sy.
Sy sal ook nooit twee eenderse style in dieselfde kleurkombinasies maak as sy weet die rokke gaan by dieselfde geleentheid gedra word nie. “Mens wil nie op 'n plek kom en iemand het net so 'n rok soos jy aan nie. Dan kan jy net sowel jou rok in Edgars gaan koop!”
“As mense hier instap moet hulle voel dis anders. Hier sal jy nooit twee van dieselfde rokke kry nie.”
En die mense wat by Liezl instap soek gewoonlik ook iets om na 'n spesiale geleentheid te dra, soos troues, skoolballe en matriekafskeide waar mens beslis uniek wil lyk.
Ten spyte van tekstielpryse probeer Liezl haar pryse bekostigbaar hou. 'n Nuwe matriekafskeidrok, byvoorbeeld, kos tussen R300 en R4 000. “Vir R3 500 kan ek omtrent enige matriekafskeidrok maak wat jou hart begeer,” sê sy.
'n Trourok sal jou sowat R8 000 uit die sak jaag. Of vir R5 500 maak Liezl die rok wat jy wil hê maar jy huur dit dan net.
Gaan loer in by Liezl Nortjé Haute Couture by 1196 Dunwoodielaan, Waverley, of skakel haar by 082 681 9229, of per e-pos by liezl@liezl-nortje.co.za.
© Bizwise June 2009
Articles