Goeie dienslewering laat onderneming oorleef
Radiolens bestaan al 32 jaar in Pretoria en dis nou die derde keer dat dit 'n moeilike tyd vir dié onder-
neming is weens die ekonomiese klimaat.
“Maar elke keer as mens daar deur is dink jy ‘ag dit was nie so erg nie’,” sê Engela Fekete, een van die eienaars.
Een van die redes waarom dié winkel waarskynlik nog oorleef is omdat dit een van twee spesialis-fotografiewinkels in die stad is wat slegs fotografiese toerusting verkoop en ook 'n spesialisdiens lewer.
“Henry (Eksteen) sal byvoorbeeld tot twee ure met 'n klant spandeer om te verduidelik hoe 'n nuwe kamera werk,” sê Engela.
“Ouens wat dit miskien gaan maak, is die ouens wat diens gee,” beaam Henry. “Maar dit moet altyd so wees – nie net in slegte tye nie.”
Henry sê mense wat nou wil kameras koop het gelukkig 'n groot keuse uit baie bekostigbare kameras. Dit geld egter nie professionele fotograwe nie, alhoewel hy reken professionele kameras se pryse het baie stabiel gebly met slegs sowat 'n 10% prysverhoging. Vir professionele fotograwe is Pentax enkellens-reflekskameras op die oomblik 'n goeie en bekostigbare keuse, sê hy.
In die kompakte “mik-en-druk”-afdeling voel hy mense wat nou wil kameras koop sal kan bekostig om tussen R1200 - R 2000 te betaal. En die gehalte is goed genoeg om jou foto's tot A3-grootte te laat vergroot. Die meeste kameras het 'n 3x- optiese zoemlens en voldoende aantal beeldelemente (pixels). Die enigste nadeel is dat dié kameras nie nie beeldvinders het waardeur mens kyk nie, slegs die LCD-skerm aan die agterkant van die kamera en dis moeilik om die beeld in die son te sien. “Maar dis om die kameras bekostigbaar te hou,” sê hy.
Aan die ander kant, waarsku Latzi Feteke, moet mense besef dat as hulle dié goedkoop kameras koop, hulle dit maar sal moet weggooi as dit breek, behalwe die Nikon en Canon wat wel herstel kan word. Die herstelkoste is egter 60% tot 70% van die koopbedrag.
Die volgende kategorie wat eintlik meer die moeite werd is, is die sogenaamde leefstylkameras soos Nikon Coolpix, Olympus Tough of Canon Ixus. Dié kameras is beskikbaar tusen R2500 en R4000 en sommige is waterdig en skokbestand. Alhoewel die fotogehalte nie noodwendig beter is as dié van die goedkoper kameras nie, is die kameras duursamer. Soos ook met die goedkoper kameras, is die nadeel dat die flits nie sterk genoeg is om op 'n afstand van meer as sowat twee meter te gebruik nie.
Maar soos die spreekwoord sê, goedkoop koop is duur koop. “Mense dink nie wat hulle koop nie. Daar is so baie modelle om van te kies maar mense kyk net na die prys,” sê Latzi. “Hulle moet ook weet of die kamera gediens kan word en of daar toebehore beskikbaar is.”
As jy in die mark is vir 'n kamera sal die mense van Radiolens jou al die raad gee wat jy nodig het, en dan kan jy jou besluit daarop baseer. En natuurlik op die inhoud van jou beursie.
Kontak Radiolens by 012 363 3535 of by Duncan Walk 2 op die hoek van South- en Duncanstraat in Hatfield.
© Bizwise June 2009