Minder is nou meer

 

Getroue ondersteuners van sjef Renette Vosloo en haar Red Tomato Bistro volg haar al jare lank soos sy rondtrek met dié restaurant.


Nou lyk dit of sy finaal die Red Tomato se penne ingeslaan het by haar huis in Waterkloof. “Vir die eerste keer in my lewe werk ek nou vir myself en nie vir die landlord nie,” sê sy.


Alhoewel die besigheid nou kleiner is, bedryf sy dit steeds op dieselfde winsmarge maar haar oorhoofse kostes is nou veel laer. Om 'n restaurant vanuit die huis te bedryf is egter nie vir iemand wat 'n besigheid wil opbou om te verkoop, of vir iemand wat wil skatryk word nie, sê sy.

 

Maar Renette se passie vir kosmaak is nou sterker as ooit omdat sy nie meer die finansiële bekommernisse van vroeër het nie.

 

Omdat sy nou op 'n kleiner skaal werk kan sy ook persoonlik na elke gas se behoeftes omsien en haar persoonlike stempel op elke bord kos afdruk. Vir gereelde gaste is dit, en die besonderse geregte wat sy maak, die rede waarom hulle keer op keer by die Red Tomato gaan eet.

 

“Dis die kos en die atmosfeer. Ons voel tuis hier,” beaam 'n groep eters en voeg by dat Renette al 'n paar keer op spesiale versoek vir hul eteklub 'n proe-spyskaart voorberei het sodat hulle iets van alles kon smaak.

 

Nog 'n klant vertel hy het een oggend na 'n kosprogram op TV gekyk en so lus geraak vir die gereg dat hy vir Renette gebel en gevra het of sy dit die aand vir hom sou maak. “Geen probleem,” was die antwoord.

 

Meer onlangs het 'n gesofistikeerde groep mense van 'n eteklub uit Johannesburg daar geëet en Renette is na die tyd met 'n hartlike applous beloon.

 

Renette sê die ekonomiese daling het nog geen effek op haar besigheid gehad nie.

 

“Ek dink dis omdat daar geen verrassings is nie. Mense bring hul eie wyn en hulle weet vooraf hoeveel die ete gaan kos.”


 Renette het net drie prysklasse –vir voorgereg,  hoofgereg en nagereg, ongeag wat jy eet.
 'n Tipiese spyskaart, van voor tot agter, bied 'n  keuse van sowat sestien geregte en elkeen is 'n  verrassing van geure en smake – soos byvoorbeeld  peer- en Gorgonzola-sop met Parma-ham, of 'n  Carpaccio-slaai van wildsvleis en gesnyde mango as  voorgereg. Of vir hoofgereg iets soos  Impala- lendestuk met swart sampioensous en 'n  skimp na  sjokolade, of beeshaas in gemaalde pienk  peperkorrel-brandewynsous. Nagereg kan iets wees  soos sagte donkersjokoladepoe-ding met  dubbelsjokoladeroomys of warm Camembert met 'n  soet rooiwynstroop en olyf-uiekonfyt op geroosterde  melbabrood.
.

Die Red Tomato Bistro is oop in die aande van Dinsdae- tot Saterdae en dis belangrik om te bespreek.

 

Vir etenstye en Sondae neem Renette slegs besprekings as daar ses of meer gaste gaan wees. Sy maak ook voor-siening vir spesiale funksies.

 

Bespreek by 012 346 6309 of redtomato@vodamail.co.za. Die adres is 421 Mainstraat, Waterkloof.

© Bizwise June 2009