Passie is suksesresep
“Besighede moenie nou sluit”
Kunsgallerye maak nou een na die ander oop terwyl ander toemaak, sê Thea Nigrini, eie-naar van die Tina Skukan-gallery in Faerie Glen.
“Ek voel besighede moenie sluit in 'n resessie nie,” sê sy. “As die resessie verby is sit die mense wat nou oopmaak met 'n gevestigde besigheid.”
Thea se gallery bestaan al 12 jaar. Sy het die gallery ter ere van haar ma begin en geopen met 'n uitstalling van haar dogter, Michèle Nigrini, gevolg deur een van Margaret Gradwell. Albei kunstenaars was reeds baie bekend en dit het bygedra tot die gallery se onmiddelike sukses.
Haar aanvanklike idee was om self te skilder en uit te stal. “Maar as jy eers 'n bedryf het kom jy nie daarby uit nie.”
'n Teetuin op dieselfde boomryke perseel aan die voet van die Bronberg skep 'n gemoedelik ambience. Dit maak die gallery ook meer toeganklik vir mense wat andersins nie sommer 'n gallery of kunsmuseum sou besoek nie.
“Ek wou graag hê Pretorianers moes blootstelling kry aan goeie kuns sonder om geintimideer te voel.” Mense wat die teetuin besoek voel gemaklik om deur die gallery te stap en so raak hulle vertroud met die kuns.
Thea druk nooit mense om te koop nie, maar sy is gewoonlik byderhand om die werke te verduidelik. “Ek wil hê mense moet koop omdat hulle van iets hou.” Sy sê mense wat wil kuns koop moet hulle nie net blindstaar teen 'beleggingskuns'
nie. Sy sê daar is baie ander kunstenaars wat grensverskuiwende werk doen en wie se werk net so 'n goeie belegging kan wees omdat dit goed is. Sy voel mense vertrou nie hulle eie smaak nie en dis die rede waarom hulle dikwels net die werke van bekende kunstenaars wil koop.
Dat kopers gewoonlik by Thea wegstap met 'n goeie werk is daaraan te danke dat sy self die kunstenaars keur. “As 'n kunstenaar nie bekend is nie, maar sy werk is goed, sal ek hom hier laat uitstal,” sê sy. “Ek wil 'n gevestigde gallery hê met goeie kuns. Ek probeer nie om vinnig geld te maak nie.” Sy het al baie goeie en bekende kunstenaars weg-gewys omdat sy voel hulle sal beter tot hul reg kom deur in Johannesburg uit te stal.
Omdat sy ook haar kommissie laag hou, skep Thea 'n wen-wen situasie vir die kunstenaars, die publiek en haarself.Maar die grootste rede vir haar sukses is die feit dat sy 'n groot passie vir kuns en entoesiasme vir haar werk het.
“Niks werk as jy nie passie het nie,” benadruk sy.
ADRES:
Plot 6, Koedoebergweg, Faerie Glen.
Tel/Faks: 012 991 1733.
© Bizwise June 2009
